KUNS EN KULTUUR

VCSV / GEESTELIKE SORG

Die VCSV was baie aktief.  Die groep kringleiers het voor die skool in Januarie heropen het ‘n  beplannings- en spanboukamp by mnr. & mev. Dries van Tonder op hul plaas gehou.  Hulle het ook in Januarie die opleidingskamp, wat geestelik baie verrykend was, by die Retiefkampterrein buite Bloemfontein bygewoon.      

Ons sê graag dankie aan ds. Hannes Els, ds.  Amos Kotzé, ds. Marius Ellis en mev. Madelein Fourie en vele ander persone vir spesiale boodskappe wat tydens die VCSV-byeenkomste gelewer is.  ’n Groot dankie ook aan almal, soos Kevin de Gouveia en Jason du Plessis, wat ons steeds help met lofprysing en aanbidding.  Dit is steeds vir ons baie spesiaal om ons byeenkomste  en vergaderings in ons eie VCSV-lokaal te kan hou.    

Uitreike is na o.a. Huis Edelkroon en ’n kleuterskool gereël. “Dinsder”, die gebedsbyeenkoms wat Dinsdae en Donderdae voor skool gehou word, beteken vir die leerders baie en hulle ervaar werklik die krag van gebed.  Die kringleiers sluit elke skooldag oor die interkom met Skriflesing en gebed af.

Die VCSV poog om elke kringleier en elke leerder wat die geleenthede bywoon, die geleentheid te gee om geestelik in die voetspore van Jesus te groei. 

 

 

BALLET, DANS, MODELLE, UITVOERENDE KUNSTE

 Verskeie van ons skool se leerders neem aan die verskillende dansvorme, kompetisies en uitvoerende kunste buite-skoolverband deel en behaal uitstekende uitslae.    

 KOOR

 Vroeg in die jaar is oudisies gehou en met ywer is daar weggespring.  ‘n Groot hoogtepunt was ons jaarlikse koorkamp waar daar baie geoefen,  maar ook lekker gekuier is.  Nog ‘n hoogtepunt was die koor se optrede tydens die Suid-Afrikaanse Skole Eisteddfodd Koorkompetisie van die Fezile Dabi-distrik waar die koor twee eerste plekke verwerf het!  Baie geluk!   

Verder is van ons skool se leerlinge weer opgeneem in die Noordwes Jeugkoor vir 2017.  Een van hulle hoogtepunte was verseker die “The Golden Voices of Barcelona” koorkompetisie in Spanje!   

 ACAPELLA

 Hierdie groepie nagtegale het by verskeie geleenthede opgetree.

MUSIEK

Van ons skool se leerders neem privaat musiekonderrig en verskeie leerlinge het hulle musiekeksamens met welslae afgelê.  ‘n Groot hoogtepunt is musiek wat nou by die skool as ‘n agste vak geneem kan word asook sanglesse na skool.

REDENAARS

Die redenaars het vanjaar met entoesiasme deelgeneem. Tydens die ATKV Redenaarskompetisie se streeksuitdunne het Megan-Lee Pretorius, SJ Wessels, Erhard van den Berg en Renské Bruwer in die Junior Afdeling deelgeneem en Anlu Keeve, Menické Engelbrecht, Carol-Ann Koekemoer en Marissa Wessels in die Senior Afdeling. 

Menické het deurgedring na die halfeindrondte: Vrystaat.    Baie geluk!

 SKAAK

 Rooies het vanjaar 1 skaakspan vir die Lejweleputswa Sekondêre Skole Skaakliga ingeskryf.  Die span het Woensdagaande vir lekker speel en leer bymekaar gekom. 

Al die skole is in 3 sirkels verdeel waarin hulle gekompeteer het. Die wenners van elke sirkel het dan weer teen mekaar uitgespeel om die finale wenner te bepaal.

Rooies was in sirkel 3 ingedeel en het derde in die betrokke sirkelkompetisie geëindig. Ons sien uit na volgende jaar se uitdagings!

 DRAMATIESE KUNSTE (Graad 10 – 12)

Dramatiese Kunste is ‘n 8ste vak wat deur mev. Riëtte le Roux aangebied word.

Kamera  Ligte Gereed Aksie!

Dit is maar net ‘n paar terme wat hierdie jaar se graad 11-leerders op die stel van 7de Laan en Binnelanders geleer het. Leerders het tydens die Junievakansie by die bekende sepie gekuier en kon hulself op televisie sien.  Die graad 12-leerders gaan hulle praktiese-eksamen op 19 Oktober aflê en ons weet dit sal goed gaan. Vanjaar bied ons ‘n Dramakursus vanaf 1 – 3 Desember aan met Desire Gardner, Jacques Bessinger en Johrné van Huyssteen. 

DIE  VOORTREKKERS

 Kroonkommando het ‘n bedrywige jaar agter die rug. Ons het afgeskop met ‘n verwelkomingsfunksie vir die kommando se nuwe graad 8’s, ‘n oueraand en ‘n groot aantal Verkenners het die provinsiekampe gedurende die Aprilvakansie en die Winterkamp in Juniemaand bygewoon. Die Vrystaatse Jeugberaad waar die spesialisasies  “Waardes” en “Erfenisbewaring” verwerf is, was baie leersaam. Ons het ‘n leersame  kommandokamp op Doornkloof gehou en ons kennis van die sterrekunde, tradisionele spele en selfverdediging  verbreed.

Ons het na die gemeenskap uitgereik deur kranse te lê op Rooi Papawerdag met die weermag se herdenkingsdiens vir die gesneuweldes tydens die verskeie oorloë. Ons het ook op 15 Oktober aan die kranslegging en vlagseremonie by die Konsentrasiekampkerkhof deelgeneem.  Ons stalletjie met die kettieskiet  tydens die skool se opedag het baie aandag getrek! Die Verkenners het  met groot entoesiasme diens gedoen by die Vrystaatse Presidentvekenner  Toekenningsfunksie

Ons is trots op Angelique Roux wat as Presidentverkenner aangewys is en KL Thea
Steenekamp wat as evalueerder en fassiliteerder by die nasionale Presidentverkenner  Afrondingskamp diens gedoen het.

Die offisiere was op verskeie vlakke bedrywig. Mev.  Ina Jagga is  lid van die Vrystaatse Erfeniskomitee en mej. Thea Steenekamp is lid van die Vrystaatse Verkennerkomitee en lid van die nasionale komitee verantwoordelik vir die skryf van die nuwe Verkennerhandleiding.  Sy ontvang ook Erelidmaatskap van Die Voortekkers op die vierjaarlikse nasionale kongres vir buitengewone dienste op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gelewer.  Die offisiere het ook  verskeie kursusse bygewoon.  

Dit is met hartseer dat ons van mev. Jagga afskeid neem na jarelange lojaliteit, getroue diens, besondere insette op vele terreine en kosbare vriendskappe. 

Baie dankie ook aan lojale Voortrekkers, toegewyde offisiere en meelewende ouers wat die Afrikanerkultuur help bevorder.